Om Mane Padne Hum

‘n Onverdeelbare praktyk. ‘n Weg van verligting. ‘n Enkelvoudige fokus.

Om Mane Padne Hum

Om mane padne hum! C. Louis Leipoldt
(Versamelde gedigte, JC Kannemeyer 1980).

O vlekloos aanskyn van die Lotusblom!

Weerspieëling van die diepste sielevree,

Gelykenis – as iets gelyk kan wees

Aan wat op aarde sonder weerga is –

Van die al-omspoelende en alreine see

Waarin geen voortbestaan van liggaam of gees

Skuil, nóg die huiwerige gedagtes, stom

Vir woorde en taal, met nou en namaals twis.

O heerlikheid, wat hartstog laat verkwyn

Tot iets wat nietiger as niks-nie skyn,

En die diep-dinkende siel bo dink verhef,

En bo besef van self, en bo verstand,

Totdat die wêreld-worstel en gedrang

Gesus word, soos die see-galm in ‘n land

Waaroor ‘n dik, bedompge see-mis hang!

O Lotusblom se louter lotuskleur!

O glorie-aanskyn met sy sagte geur!

O maagdlik Lotusblom in wie se skyn

Die reinste menslik reinheid onrein lyk.

Juweel van stille waters wat verdwyn

Onder die skadu van oneindigheid,

Simbool van liefde en van liefderyk

Geheiligde toewyding deur die tyd

Aan alles, alles wat die liefde wek,

En alles, alles wat tot liefde strek.

O Lotusblom se reine lotusskyn,

O troos in sielestryd en sielepyn!