Die Tribe

Neem die vrymoedigheid om te skryf en/of jou foto en bio aan te stuur na admin@stil.co.za.

Corisamaria

Corisamaria

Ek het ‘n natuurlike belangstelling in spiritualiteit. Ons huishulp het my al op 5 jaar verseker dat ek hemel toe sal gaan – eendag!  As ek terugkyk op my lewe, van nou bietjie meer as 5 dekades, sou ek kon sê ‘n diepe motivering in my is om die hemel-op-aarde-moontlikheid, te ontgin en so het my soeke begin.
Ek het al lekker draaie gemaak in verskeie maniere van soek en ook in verskillende kontinente.  My soeke na ‘n “goeie-pas” in terme van my talente en die aanvraag, het my dieper soeke net verder versterk. So het ek al skoolgehou, klasgegee op UWK, au pair gewees in die VSA, tekstielontwerp studeer in Berkeley, my eie restaurant bedryf, ‘n gastehuis en onthaalfasiliteit met my gewese man, geskou met staanhorlosies en meubels van ou vaatjiehout, ‘n boek geskryf en gepubliseer, tot hier waar ek nou is, waar ek net eers stilstaan en nie weet wat die volgende stap gaan wees nie en ja, die fokus het stadig verskuif en kon ek in die week vir iemand sê dat ek nie meer die “perfekte pas” soek nie, en meer bewus daarvan is, om die volheid van wat is, hoe “onperfek” ook al, te ontgin. Dalk is ek nou eers naby die begin…

Herman

Herman Kleine Weg

Ek voel vandag met die skryf van die kort bio soos die hoofkarakter in The Big Blue: Af in die stilte na afsondering – ‘n helder heilige bewussynsruimte waar ek in deernis met die oomblik kan omgaan – weer terug na die oppervlak om lig met donker te versoen. So verlig ek lyding, nie net vir myself nie. Dit is wat ek altyd wil – dieper die stilte.

Skoolvriende noem my Hermiet, tog lewe ek kniediep in die 21e eeu. Op die oomblik is my tuiste die afgeleë Noord Wes Provinsie. My kinders gaan hier na die Laerskool, ek werk as Gesins en Individuele Terapeut in die dorp en aanlyn. Daarbenewens boer ek bietjie met Merino’s. Ek en Catherine my vrou het mekaar op ‘n retraite ontmoet.

Enige vrae is welkom, skryf gerus na my e-pos adres: herman@stil.co.za.

Janeen

Janeen

Sjoe is nogals moeilik om vir iemand anders my innerlike pad te beskryf, maar gaan probeer. Het intussen ondervind ander soekendes is meer compassionate en minder judgemental…

Is getroud en het twee seuns en `n dogter. Al drie werkend, twee seuns in Ceres en Somerset-Wes en dogter in Windhoek. Boer met Brahmane hoofsaaklik. Goed hierdie was die maklike deel!

Ek was vir agt jaar meesal alleen op die plaas gedurende die week en dit was nie `n baie nice stadium in my lewe nie, nou agterna besef ek dit was die grootste blessing. Op `n Nam plaas met kinders in die koshuis en man baie weg is dit onvermydelik om jouself nogal erg goed te leer ken, en ook nie altyd te hou van dit wat jy ontdek nie. Vir my eie survival as mens het ek maar so op die internet begin soek na antwoorde en hervulling op geestelike vlak. Woon in `n baie konserwatiewe omgewing so my geestelike reis het maar baie aleen begin. My man het ook nog `n baie tradisionele uitkyk op godsdiens, maar het intussen besef hy moet my soeke aanvaar anders gaan hy my verloor, maar kommunikasie daaroor werk nie eintlik nie. Waar dit my voorheen gehinder het, is ek baie rustig daaroor.

Ek het begin mediteer om my besige kop stil te kry en in die proses besef al hoe ek ooit permanente joy gaan vind, ongeag mense of omstandighede wat nie altyd positief is nie, is om my reis van binne aan te pak. Ek is vir my eie geluk verantwoordelik en hoef nie toe te laat dat ander dit boicot nie. Lees baie, oor ander gelowe en leer uit elkeen iets wat ek kan toepas in my lewe. Het ook kursusse van Hennie Terblanche en Salmon Vermaak bygewoon.Dis asof mens antennas ontwikkel en op die vreemdste plekke net random `n konneksie maak met mense wat ook soek!

JP

JP2013Foto-Kop

Ek voel meeste dae soos ‘n Hobbit in Tolkien se bekende middelwêreldverhale van misterie, broederskap, swaarkry en avontuur. Die ding wat my die meeste tref van Hobbits is hulle  resilience te midde van groot krisisse asook die manier waarop hulle met ligtheid kan beweeg deur die donkerste ervarings en hoe prakties hulle lewensuitkyk is. Ek dink ek het van die eienskappe, en wens ek het van die ander, maar die stories se siklusse van uitdaging, onsekerheid, gevaar en uiteindelik oorwinning (en ‘n goeie maaltyd!) het my al baie gehelp om my eie lewe te verbeeld.

Ek het n paar jaar terug probeer om my doopname, Jan Petrus, weer te begin gebruik, maar nou maar oorgegee aan die korter meer ingeburgerde JP. Ek en Tiana en ons twee kinders, Karen en Herman, woon in Pinelands (voel soos platteland in die middel van Kaapstad) en ek werk by die Universiteit Stellenbosch in die Akademiese Ontwikkelingsveld met die fokus op leertegnologieë. Die fokus op tegnologie vir leer help my baie om ook die gebrek aan toegang tot tegnologie en opvoeding raak te sien en dit is een van my passies om deur tegnologie verandering te kan bewerkstellig (bv deur die WKOD Telematiese skoleprojek).

Leave a Reply